Lewens-afrigting vir persoonlike groei en welstand

1 tot 1 sessies oor Skype

Jou lewe as ‘n boom wat groei…

Vir ‘n boom om te floreer moet jy die boom beskerm teen faktore wat die boom se groei belemmer bv. storms of groot diere. Aan die ander kant moet jy seker maak die boom kry al die regte voedingstowwe. Vir die res staan jy terug en laat die lewensenergie wat deur die boom vloei toe om groei en genesing te bewerkstellig. Die groei self is nooit in jou hande nie en hierin is die groot oefening om te aanvaar en oor te gee. Wat wel in jou beheer is, is om dinge te doen of nie te doen nie wat die boom se groei ondersteun. Daar gaan altyd uitdagings wees en jou sorg vir die boom gaan wissel in terme van watter seisoen dit is sowel as die tipe boom, tipe grond en tipe klimaat. Dus om ‘n gesonde boom te kultiveer verg met tye wel moeite en aandag.

My lewensafrigting is om jou te help om gesonde omstandighede te skep vir die groei en herstel van jou unieke lewensboom. 

Jou lewe as ‘n klomp ratte… 

Ek besef jy is veel meer kompleks en dinamies as ‘n masjien, en ek wil hê jy moet vir die oomblik aan jou lewe dink as ‘n verskeidenheid ratte wat inmekaar draai. Soms gebeur dit dat die olie op sekere plekke opdroog en alles begin moeliker en stadiger te loop en met tye voel dit dalk of sekere ratte heeltmal vassit. Deur betyds net ‘n bietjie olie op ‘n droë rat te sit begin dit los te wikkel en weer te draai. Met die een rat wat weer draai is daar outomaties klomp ander ratte wat ook weer begin draai sonder dat jy aan hulle almal moes werk.

As jou kreatiewe lewensenergie begin te vloei dan het dit outomaties ‘n positiewe effek op verskeie areas van jou lewe en is dit nie nodig om elke area pynlik te ontleed of te probeer fix nie. Soms is net ‘n bietjie olie op die regte plekke voldoende om nuttige en nodige skuiwe in jou lewe teweeg te bring. Net soos wat jy jou nuwe motor vir sy geskeduleerde dienste neem sodat jy langtermyn die beste waarde vir jou geld kry, is dit goed om ook na jouself af en toe te kyk en seker te maak jou ratte is goed ge-olie.

My lewensafrigting kan gesien word as ‘n pro-aktiewe proses waar jou enjin gediens word en seker gemaak word jou ratte is glad geolie en die filters met ou vullis wat jou vloei belemmer is uitgehaal. 

Het jy behoefte aan verandering, persoonlike groei en/of meer vervulling in jou lewe?
Die lewe is nie altyd regverdig nie en soms speel dinge uit op ‘n wyse wat jy nie voorsien het nie. Gelukkig werk dit so dat dit nie is wat met jou gebeur wat die kwaliteit van jou lewe bepaal nie, maar juis hoe jy alles hanteer wat met jou gebeur. Die stories wat ons glo en vir onsself vertel bepaal die kwaliteit van ons lewens. Mens sou kon sê die lewe is heeltyd ‘n dans tussen jou eie keuses maak en om al die dinge te aanvaar waaroor jy geen beheer het nie. En ja ek besef te goed dit is makliker gesê as gedaan.

Is jy geneig om besonder krities op jouself te wees?
Dit is heeltemal normaal om ‘n stem in jou kop te hê wat heeltemal te hard op jouself is. As hierdie stem egter te veel mag kry kan dit gebeur dat jy net nooit goed genoeg voel nie en kan dit ‘n negatiewe impak op jou werk, persoonlike-verhoudings en gesondheid maak. Daar is ongelukkig geen towerkuns om van die stemme ontslae te raak nie, maar mens kan leer om hulle nie te ernstig op te neem nie.

Jy hoef nie die pad alleen te stap nie!
In ons besige en veeleisende wêreld is my lewensafrigting-diens is ‘n veilige spasie waar jy bemagtig word om jou eie stem te vind en volg. Hetsy jy reeds ‘n mate van helderheid het of vasgevang voel in troebelwaters ontmoet ek jou waar jy is sonder enige oordeel (dit is maar net die stem in ons eie kop wat soms te hardkoppig en trots is om met iemand anders te wil praat).

Kontak my gerus as jy meer van die volgende kwaliteite in jou lewe wil toelaat:
• Wees meer gekonnekteer aan jou persoonlike mag (ten spyte van die vrees/woede/skaamte/angs/swakhede/mislukkings in jou lewe).
• Om minder in te koop op die kritiese stemme in jou gedagtewêreld.
• Verbeterde streshantering en verligting.
• Verhoogde kapasiteit vir helder denke, besluitneming en kreatiewe uitdrukking.
• Verbeter die kwaliteit en diepte van jou persoonlike verhoudings.
• Jou energie meer doeltreffend aan te wend deur alleenlik te fokus op dit wat binne jou beheer is.
• Met meer bewuste teenwoordigheid te leef.
• Om meer ge-anker en vergenoegd te leef.

Dit sal my voorreg wees om jou op jou reis te begelei!

Vriendelike groete,
Renier Cronje